Saturday, May 21, 2016

Hoe neem mens afskeid ... ?

Hoe begin mens om afskeid te neem van jou heel naaste vriendin wat die laaste vyf jaar n naby kronkel paadjie saam jou gestap het ... Om haar so te sien veg met die aaklige kanker wat ons lewens onderstebo kom tuimel het met sy ongenaakbare voelers, laat mens sprakeloos ... woorde en gedagtes raak leeg ... klink leeg ... is leeg.

Ons het tyd gehad om die monster te ontleed en van elke hoek en kant af te bekyk ... almal van heinde en ver het raad gegee ... en Karen het elke feit kop omgedraai en telkens probeer om maar die "regte" ding te doen ... steeds sou ons bly wonder wat nou eintlik die "regte" ding moes wees...  altyd maar gehoop dat daar tog n klein mirakel sal gebeur wat alles sou omkeer en die eina en stukkend weer sou heelmaak... wegvat ... Hoe graag wou ons nie nog Amsterdam toe gaan sodat ek haar al die mooi plekkies kon gaan wys waaroor ons so baie gechat het nie. Hoe graag wou ons nog ...

Snaaks tog hoe mens se soulmate opdaag op n tyd waar mens nie eens dink dat dit ooit sal gebeur nie ... en dan ook wegkwyn op n tyd waar mens dit regtig nie wil he nie ... hierie vonkelvrou met haar lekker diep laggie oor my stupid grappies ... n mensie wat lief is vir lewe ... lief vir mense van alle kleure en geure en geite ... n vrou wat kwaad was oor wat stiksienige godsdienstigheid aan haar en die wereld gedoen het ... maar altyd nog respek gehad het vir ander se sienings ... nog altyd lief gebly het vir mense wat haar te na gekom het ... altyd nog lief gebly het vir ander se menswees ... en net gevra het dat hulle ook haar sieninge respekteer ...  so ironies dat iemand wat niemand ge-"judge" het nie n edeldierbaarste van beroep was ... (ek kan altyd sien sy laaik daai "edeldierbaarste" troetelnaam want sy het van oor-tot-oor gesmaail as mens haar so noem ... en saggies gespin ...) 





Vyf jaar gelede in Mei 2011 was ek pas terug van n avontuur verblyf in Amsterdam sedert 2006. n Tyd waar ek besluit het om n nuwe begin te maak ... om n groot skoon bladsy te vat en n nuwe storie te begin skryf ... n tyd waar ek moes afskeid neem van alles wat vir my belangrik was ... en een aand onverwags sit hierie funny tannie voor my en seg sy weet van my storiekies wat ek in Amsterdam geskryf het ... toevallig?? Ja ne :-)

n Week later stop sy met haar bokwa voor my huis met potte en panne en n wavrag vol kos ... en kook die lekkerste maal wat n bachelor nou aan kan dink ... die pad na my hart ... dalk was dit die einas in ons lewens wat ons so naby mekaar gebring het ... dalk was dit daai gevoel dat ons ons ou klein dingetjie wou doen om die wereld n beter plek te probeer maak ... dalk was dit maar net so besonders dat mens iemand ontmoet het wat jou nie oordeel nie ... wat seg jys okay al voel en is jy nie so okay nie ... dalk was dit maar net dat ons mekaar ge-"hoor" het ... so het ons paadjie begin ... n paadjie wat ek vir niks innie wereld sal verruil nie ...

Vandag voel mens eina ... wil virrie wereld seg om net so biekie stil te staan ... wil virrie wereld seg om my net so biekie kans te gee om sin te maak van die seer wat sy leplek hier in jou hart en lyf kom maak,  my net biekie uit te los vir n rukkie ... my net so biekie alleen te laat ... maar die son gaan onder en die son kom op ... die lewe gaan aan ...

Dis nou al n paar dae wat Karen se mammie, haar ou pa en familie so mooi vir haar sorg en al kan mens sien hoe die eina aan hulle vaskleef, tog nog lag en probeer om haar laaste paadjie so gemaklik moontlik te maak... swaar om te sien hoe daai bonfire heart hier voor mens nog probeer ... nog veg ... nog ...

Dis weer in tye soos die dat mens besef dat die lewe maar bleddie kort is ... dat jy maar jou ding moet doen ... soos jy hom wil en moet doen ... daas geen Venterwaentjie aan die einde van die pad nie ... maar die wonderlike mensie wat soveel pret, plesier en lag uit die lewe gehaal het straal nog steeds haar stardust uit en dit val soos sterrereen op elkeen wat haar ken ...

Hoe die paadjie vorentoe lyk weet ons nie ... maar ek weet Karen sal altyd hier rond wees...  die engeltjie in so baie van ons se lewens ... die engeltjie wat altyd omgee ...





When I'm feeling weak
And my pain walks down a one way street
I look above
And I know I'll always be blessed with love
And as the feeling grows
She breathes flesh to my bones
And when love is dead
I'm loving angels instead
- Robbie Williams

No comments: